9 Plekke in SA om voëls te kyk

9 Plekke in SA om voëls te kyk

9 Plekke in SA om voëls te kyk

Geskryf deur: Danielle Kleyn

Met sowat 850 opgetekende voëlspesies is dit geen verrassing dat voëlkyk in Suid-Afrika vinnig besig is om ‘n baie gewilde buitelewe aktiwiteit te word nie. Voëlkykseisoen is hoofsaaklik tussen September en Maart, maar niks verhoed jou om die res van die jaar ook hierdie stokperdjie te beoefen nie.

Wat jy nodig het om ’n bobaas voëlkyker te word:

  1. ‘n Verkyker.
  2. ‘n Voëlgids of toepassing. Daar is verskeie voëlgidse op die rak wat dit baie makliker vir jou sal maak om die voëls wat jy sien, te identifiseer en af te merk. Daar is ook ‘n paar toepassings, soos South African Bird Identifier, wat dieselfde doel dien.
  3. Baie geduld. Dit mag dalk ‘n rukkie neem om die skaarser voëlspesies onder oë te kry, maar dit is beslis die moeite werd.

Waar om jou nuutgevonde stokperdjie te beoefen:

Die wonderlike ding van voëlkyk is dat dit enige plek beoefen kan word, selfs in jou eie tuin! Maar hier is een plek in elke provinsie waar verskeie voëlspesies volop is.

  1. Die Nylsvlei Natuurreservaat in Limpopo het sowat 370 voëlspesies, wat dit die ideale plek maak om hierdie aktiwiteit aan te pak. In piekvloedseisoen is daar al 80 000 voëls getel, waaronder die meeste watervoëls was.
  2. Pretoria Botaniese Tuine spog nie slegs met ‘n verskeidenheid dierspesies nie, maar ook met 220 gelyste voëlspesies.
  3. Die Giant’s Castle Natuurreservaat in die Drakensberge het ongeveer 140 voëlspesies, onder andere die Sekretarisvoël, Lammergeier en die Bloukraanvoël wat die nasionale voël van Suid-Afrika is.
  4. Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad is een van die gesogste botaniese tuine in die wêreld, en daarom is dit geen verrassing dat meer as 100  voëlspesies soos die Oranjeborssuikerbekkie en die Afrikaanse sperwer hier bespeur kan word nie.
  5. Vir voëlkykers in die Noord-Wes provinsie het die Pilanesberg Nasionale Park meer as 300 voëlspesies wat gesien kan word waaronder die Groenrugreier en die Kuifkopvisvanger tel.
  6. Saragossa Wildreservaat in die Waterval Boven gebied van Mpumalanga  spog met die Knysna loerie, Kortbeksuikerbekkie en sowat 125 ander voëlspesies.
  7. By die Dronfield Natuurreservaat sowat 10km van Kimberley af, is daar al 140 voëlspesies gesien, onder andere die Witrugaasvoël en die Rooiborslaksman.
  8. Golden Gate Natuurreservaat, geleë in die Vrystaat, spog met ‘n indrukwekkende 250 voëlspesies. Indien jy die Dassievoël, Breëkoparend of Bergwagter van jou lysie wil afmerk, is hierdie dus die perfekte plek.
  9. Die bekende Addo Olifant Nasionale Park in die Oos-Kaap is die ideale plek om ‘n verskeidenheid voëlspesies soos die Bokmakierie,  Gewone janfrederik  en die Knysna papagaai van jou lysie af te merk.