Ons Storie

Die idee word gebore

In 2013 is die idee gebore om ‘n handelsnaam te skep wat assosieerbaar is vir Suid-Afrikaners. Moeg om teen massa geproduseerde “New York” en “Brooklyn” embleme op t-hemde vas te staar, het ons begin droom van ‘n plaaslike handelsnaam op ‘n internasionale standaard. Na ‘n lang koffie-sessie by Magnolia-dal in Pretoria het ‘n paar nat-agter-die-ore jongmense begin lysies maak van plekke, gesegdes en embleme wat Suid-Afrikaners met trots op hulle mou kon dra. Die eerste t-hemde is gedruk en elke landbouskou, plaasmark en vlooimark wat die risiko wou neem het nie-wetend die begin geword van De Afrikander Handelshuis. Die deur het oop gegaan toe De Afrikander Handelshuis sy eerste grootmaat bestelling deur ‘n bekende nasionale handelaar gekry het, toe hulle meer t-hemde in ’n maand bestel het as wat ons in ‘n jaar verkoop het. Maar hulle het versoek dat ons die woorde “sedert 1652” van ‘n hemp moes afhaal. Daar is botweg geweier en na ‘n groot verlies en ‘n motorhuis volgestop met voorraad, moes daar ‘n besluit geneem word. Met egte Afrikaner-hardkoppigheid is besluit om te onttrek en kort daarna het ons ons eie winkel oopgemaak met ons eie karakter. Die Handelshuis is in 2017 by die Voortrekkermonument oopgemaak en het nie net t-hemde verkoop nie, maar die wydste reeks Afrikaanse produkte wat onder een dak bestaan. 

Republk se ware begin

In 2019 is die t-hemde en bykomstighede herdoop as Republk terwyl die winkel se naam steeds Handelshuis bly. Ons wou hê dat dit wat mense dra ‘n handelsnaam moet hê wat die waarde vertolk van ‘n groep mense wat ‘n gedeelde geskiedenis en herkoms het. Republk is toe kort daarna met groot genade en klein bietjie geluk deur ‘n uitvoerende hoof van nog ‘n nasionale handelaar by ‘n Geloftefees raakgesien en Republk is toe vir die eerste maal in 4 handelaars beskikbaar. Teen 2021 was Republk produkte in sowat 15 winkels beskikbaar, in 2022 byna 60 en in 2023 slaan hy die 100 merk oor. Republk skuif toe ook kantore en open sy eerste pakhuis in Centurion. Vroeg in 2024 is Republk in meer as 150 winkels landswyd. 

Nie glorie nie, maar genade

Republk is nie ‘n storie van eie glorie nie, maar eerder een van hoe God gewone mense gebruik om ongewone dinge te doen. Nie omdat ons altyd die regte besluite geneem het nie, maar eerder ten spyte van al ons foute. En soos ons groei en die wêreld wil invaar met iets wat spreek van hoë gehalte en klassieke styl, sal dit altyd wees met ‘n druppel ruwe Afrika. “Vind jou Ware Noord” beteken om koers in te slaan, maar met ‘n besef dat jou eindbestemming altyd deur 'n groter hand bepaal word. ‘n Groter avontuur as dit, kry mens nie. Dra Republk en leef die avontuur saam met ons! 

Gehalte t-hemde

waarmee jy kan assosieer

Winkel