Drie dinge wat elke avontuur-liefhebber moet beleef.

Drie dinge wat elke avontuur-liefhebber moet beleef.

Drie dinge wat elke avontuur-liefhebber moet beleef.

Suid-Afrika is een van die natuurskoonste plekke  ter wêreld. Met die Covid-19 pandemie wat steeds beperkings in internasionale reis veroorsaak, is dit die ideale geleentheid om ‘n toeris in jou eie land te wees. Hier is drie avonture wat jy in jou moederland kan aanpak.

1.

Sneeu in die Drakensberge

Oor die algemeen is die Drakensberg ‘n wonderlike bestemming vir avontuur-liefhebbers. Nie net is daar heerlike staproetes en is gedeeltes van die berg verklaar as wêrelderfenisgebiede as gevolg van die ryk geskiedenis nie, maar dit is ook van die min plekke waar jy sneeu kan sien. Sneeu in Suid-Afrika ‘n rare gebeurtenis, maar wanneer die temperatuur in Julie skerp daal in die Drakensberge en omliggende omgewings, kan sneeu verwag word. Wegbreekplekke waar jy die sneeu kan beskou, sluit Tenahead Mountain Lodge en Meadow Lane Country Cottages in 

 2.

Sterrekyk in Sutherland

Sowat 350km van Kaapstad af is die koue dorpie genaamd Sutherland. Sutherland is die tuiste van SALT, die grootste teleskoop in die suidelike halfrond. Dit is ook een van die plekke wat die beste sterrekyk-geleenthede bied. Die besigheid, Sterland Stargazing bied amper elke aand sterrekyk-sessies aan. Bespreek egter vroegtydig om teleurstelling te voorkom. Ideaal vir gesinne of paartjies! 

3.

 Blommekyk in Namakwaland

Namakwaland is seker die bekendste streek op blomme te kyk. Indien daar goeie reënval was, word Namakwaland laat Julie tot September  met ‘n blomkombers van geel, oranje en pers bedek. Maak seker jy besoek op ‘n sonnige dag, aangesien die blomme slegs oopmaak wanneer die son skyn. Van die beste plekke in Namakwaland waar jy na die blomme kan kyk is in die Goegap Natuurreservaat,  Skilpad Veldblomreservaat en die Namakwa Nasionale Park. Onthou om jou kamera saam te neem om die pragtige natuur vas te vang.