Ons top 3 Stapuitdagings vir die jaar!

Ons top 3 Stapuitdagings vir die jaar!

Ons top 3 Stapuitdagings vir die jaar!
  • Geskryf deur Danielle Kleyn.

Daar is min dinge wat so verfrissend is soos om tyd in die natuur te spandeer. Een van die maklikste en goedkoopste maniere om weer een met die natuur te word, is om te stap. Daar is boonop soveel gesondheidsvoordele verbonde aan stap, insluitend ‘n verlaagde  risiko vir hartsiektes en verbeterde bloedsomloop. Onder in die artikel kan jy 'n gratis e-boek aflaai met 40 staproetes in Suid-Afrika wat opgedeel is volgens provinsie. Maar instussne, hier is drie stapuitdagings wat jy móét aanpak. So, trek aan jou stapskoene, gryp jou hoed en berei voor vir ‘n groot avontuur!

Die Amatola-staproete (Oos-Kaap)

Hierdie staproete is ‘n volle 100km lank en begin by Maden dam, sowat 23km van King Williams Town en eindig vyf dae later in die bergagtige Hogsback. Die Amatola word as een van die moeilikste staproetes in Suid-Afrika bestempel wat nie onderskat moet word nie, en word dus net vir ervare stappers aanbeveel. Watervalle, groen woude, en bergspitse sal jou begroet soos wat vars lug jou longe vul. Die natuurskoon is al deur talle stappers vergelyk met die natuurskoon in die Lord of the Rings boeke. Diere soos Knysna loerie, Kaapse papegaai, massiewe erdwurms (wat langer as 1 meter kan word), bosvarke en reuse goue molle kan hier bespeur word. Die ideale tyd om die Amatola aan te pak is in September wanneer dit nie uitermatig warm of koud is nie. 

Die Otter (Tuinroete)

Hierdie roete wat as die oudste staproete in Suid-Afrika bekendstaan, is 42.5km en word oor ‘n tydperk van vyf dae gestap. Dit begin by die Stormsriviermond en eindig by die Grootriviermonding in Nature’s Valley in die Tsitsikamma natuurreservaat. Hierdie staproete vereis, net soos die Amatola staproete, ook ‘n mate van fiksheid, maar enige persoon tussen die ouderdom van 12 en 65 kan hierdie avontuur aanpak. Die beste tyd om hierdie staptoer aan te durf is in die lente of herfs wanneer dit nie te warm is nie. Die hoogtepunt van hierdie avontuur is beslis op die vierde dag wanneer die Bloukransrivier oorgesteek word deur daardeur te swem. Die natuurskoon is indrukwekkend en sluit spierwit strande, dramatiese klowe en  welige fynbos  in. Bobbejane, dolfyne, bokke en sowat 371 voëlspesies is van die diere wat jy op jou pad mag teëkom. Omdat dit ‘n staproete is wat op talle mense se emmerskoplysies is, word belangstellendes aangemoedig om hul plek ‘n jaar vooruit te bespreek. 

Die Walvis-staproete (Wes-Kaap)

Hierdie vyf dae lange staproete begin in Potberg in De Hoop Natuurreservaat en eindig in Koppie Alleen wat ook deel vorm van die De Hoop Natuurreservaat. Die staproete is 55km lang en sluit vyf oornag stoppe in. Die moeilikheidsvlak is matig en die eerste dag word as die moeilikste bestempel- dit is 14.7km lank en behoort die deursneë stapper ongeveer agt ure te neem om te voltooi. Stappers kan uitsien na die ongerepte skoonheid van die natuurreservaat terwyl die geur van fynbos en die klank van branders wat teen die rotse klots hul bekoor op hul roete. Indien jy gelukkig is, sal jy die laaste oorblywende teelkolonie van  kaapse aasvoëls teëkom. De Hoop natuurreservaat is ook ‘n bekende plek om walvisse te sien tydens die wintermaande (Junie tot November) wanneer walvisse ons kuslyn besoek om die vlak kuswater te geniet.

VIR 'N GRATIS E-BOEK OOR DIE TOP 40 STAPROETES IN SUID-AFRIKA, KLIEK HIER.

Indien jy foto’s het van jou laaste stapavontuur, is jy welkom om dit met ons te deel by info@republk.co.za of ons te “tag” op sosiale media sodat ons dit vir die res van die Republk familie kan wys.