Adam Tas

Adam Tas

Adam Tas

In 1694 vertrek Adam Tas se susters, Sara en Johanna uit Nederland na die Kaap om by hul tannie te gaan woon.  Hul word nie lank daarna nie gevolg deur hul broer, Adam Tas, wat die Kaap in 1697 bereik toe hy ongeveer 29 jaar oud was.  Adam Tas is in Amesterdam gebore; sy ma was ‘n lid uit ‘n relatiewe prominente predikantsgesin en sy pa word beskryf as ‘n “commis der recherches”.  Dat Adam Tas goed opgevoed was blyk uit die styl van sy dagboek en die feit dat hy teen die tyd van sy dood 35 bondels boeke besit het – ‘n rariteit in die vroeë jare van die nedersetting.

In die Kaap aangekom het Tas hom as lid van die Kaapse gemeente ingeskryf waarin hy aangedui het dat hy in sy oom se dorpshuis in Tafelvallei gewoon het maar volgens sy biografie het hy op sy oom Henning Hüsing se plaas Meerlust in die distrik Stellenbosch as sy sekretaris-boekhouer opgetree.  Omdat Tas se oom en tannie wel-af lede van die Kaapse samelewing was, was sy vestiging aan die Kaap relatief maklik.  Sy sosiale en finansiële posisie is verder verbeter deur sy huwelik met Elisabeth van Brakel in 1703, die weduwee van die Duitser J.J. Grimpe wat self ryk was.  Met die huwelik het Tas beheer oor ‘n groot fortuin gekry en ook die eienaar van die paas Libertas in die onmiddelike omgewing van Stellenbosch geword.  Hy en Elizabeth het vyf kinders, maar twee is jonk oorlede.  Twee seuns, Jan en Adriaan, en ’n dogter, Sara Margaretha, bereik volwassenheid.

 Na sy huwelik word Tas die sekretaris van die Broederschap – ‘n groep boere wat die VOC administrasie as korrup beskou.  Hul trek ‘n petisie op waarin die plaaslike amptenare daarvan beskuldig word dat hul hul magte misbruik om handelsskontrakte soos die vleis en alkohol pachte te kry.  63 van die 550 vryburgers aan die Kaap teken die petisie en daarna word die petisie in geheim na die VOC se hoofkwartiere in Amsterdam gestuur.  Saammet die klagskrif het Adam Tas ook ‘n skets van Vergelegen (Willem Adriaan se plaas) gestuur om uit te beeld hoe weelderig die goewerneur se privaat plaas is.  Tas was egter nooit self by Vergelegen nie en het dit bloot op beskrywings geteken.  In reaksie sou Willem Adriaan later sy eie tekening stuur om sy saak te probeer beredder.  Die Kompanjie het van die staanspoor af beveel dat die amptenare nie self vir die mark mag produseer nie, aangesien die burgers andersins nie as boere sou kan oorleef nie. In 1685 het goewerneur Simon van der Stel egter die plaas Constantia (later Groot Constantia) ontvang toe hy aftree.  Nadat Willem Adriaan, sy seun en opvolger, as goewerneur van die Kaap oorgeneem het, het hy die plaas Vergelegen aan die voet van die Hottentots-Hollandberge ontvang. Op die plaas het sowat 200 slawe en 60 wit knegte gewerk terwyl ander hoë amptenare en die goewerneur se broer het ook plase ontvang het. Teen 1705 was ongeveer 'n derde van die bewerkte gebied van die kolonie in die hande van ongeveer twintig Kompanjiesamptenare.

 Juis omdat die plase voedsel produseer het, het Willem Adriaan planne beraam om 'n monopolie in die verkope van wyn, vleis, vis en koring te bekom. Die goewerneur het self 'n vyfde van die totale koringoes geproduseer, en saam met familielede al die wyn wat deur die wynpagter benodig is. Sy kudde van 18 000 skape en 1000 beeste kon al die vleis lewer wat die skepe, hospitaal en Kompanjiepersoneel kon gebruik. Die  oorname van die mark het konflik veroorsaak met die vryburgers en veral met die lede van die burger elite.  Henning Hüsing, die aangetroude oom van Adam Tas, was op daardie stadium die rykste burgers in die kolonie.  In 1705 het hy 100 000 riksdaalders kontant, 1000 stuks grootvee, 20 000 skape, en 545 morg grond met 100 000 wynstokke besit. Hüsing het in 1700 die kontrak gekry om vleis vir die skepe, hospitaal en die garnisoen teen ’n vasgestelde prys te lewer. Dié kontrak het van hom ’n kapitalis gemaak. Hüsing se woning op Meerlust was ’n toonbeeld van goeie smaak. Hy het ook in Kaapstad ’n huis gehad – een van die twee dubbelverdiepinghuise in dié stad.

Willem Adriaan van der Stel was die oudste van ses kinders van Simon van der Stel en Johanna Jacoba Six.  Op die ouderdom van vyftien vertrek hy na die Kaap en sowat vyf jaar later in 1684 keer hy terug na Nederland waar hy trou met Maria de Haze.  In 1699 keer hy terug na die Kaap as opvolger van sy pa in die posisie an Goewerneur.  Van der Stel word aan die een kant geken vir sy uitstekende boerdery metodes en het die kompanjie tuine uitgebrei en verskeie eksperimente gedoen om boerdery te verbeter.  Sy oorwinnings word egter oorskadu deur die feit dat Van der Stel ook sy mag gebruik het om sy eie sakke te vul.

Tog wil dit voorkom of Van der Stel se huishouding nie noodwendig uiters gelukkig was nie.  In sy dagboek vermeld Adam Tas op 24 Desember die volgende:

“S’morgens tamelijk weer, ons volk is met Coorn bij huijs te rijden besig geweest, alsmede met het restantie Coorn aft e snijden. Men vertelt mij heeden als dat des Gouverns: vrou uijt mismoedigheid zig zelf heft willken verdrinken, ten dien eijnde was zij in de fontijn achter’t huijs aan de Caab gesprongen dog Juffrw: Berg was aldaar, dewelke toegeschoten quam om haar te helpen trekkende haar uijt het water, tegen dewelke zij zeer jammerlijk hadde geklaagt, dat haar’t leven zoo bang viel, omdat ze dagelijx zoo veel uijt sprongheeden moest hooren en zien, zeldzaam voorval, waaruijt vrij wat nabedenken valt.

Reeds in 1705 was daar aansienlike spanning tussen lede van die burger gemeenskap en die goewerneur.  Op die 9de Desember skryf Adam Tas in sy dagboek:

“S’morgens tamelik warm weer. Deze morgen quam broer Jacobus van Brakel hier, hij verhaalde mij eenig nieuws onder anderen dat den goeverneur vier menschen aan de Caab zoude vervolgen en drukken, zoo veel hij konde, namelijk Husing, Meerland, van der Heijden, en Tas, dat waren de voornaamste aanlijders van’t quad dat hem berokkent was, en’t konde die menschen wel eens overkomen dat eenige oproermakers en Roovers in den Amsterdamsen oproer overquam, die van de waagen uijt een venster wierden opgehangen, een droevige gelijkenis dat men mannen van eere, die de gemeente met kragt soeken voor te staan, bij schelmen en oproermakers wil gelijk stellen.”

Die owerheid in Batavia het Tas se versoekskrif na die Here Sewentien in Amsterdam gestuur, wat dit weer na die Kaapse amptenare aangestuur het met die versoek om hul optrede te verduidelik. Die amptenare was woedend. Hulle het hulle as die Kompanjie se "wettige kinders" en die burgers as "onwettige basters" sonder wetlike regte beskou. 

Teen die 28ste Desember was daar reeds verdere oproer teen die lede van die burger gemeenskap wat in teenstand teen die goewerneur gekom het, waarskynlik in ‘n poging om die Broederschap te ondermyn.  In sy dagboek skryf Tas:

“…wierde mij verhaald als datter thans aan de Caab, door eenige quadaardige of liever onkundige menschen op een vervloekte galbittere manier van Oom Husing wierde gesprooken, onder andere wierde van hem gestegt dat hij een Landsverrader en bedrever der Ingeseetenen was, en terwijl datter nu nieuwe slageters aangesteld waaren, weird er zeer geschimpt op die meenigte van zijn vee, waar van gezegt wierde dattet de kraijen nog zouden opvreeten, end at hij nog een arm man zoude warden en diergelijke hondscots of schobbejaks Taal meer, wijders wierde van hem gesegt, dat Oom een quad doener of quaadstooker aan de Caab was, en van mij zeijde men dat ik sulz aan Stellenbosch was, alle wlke Lasterlijke uijtstrooisels en tastelike onwaarheeden alleen uijt den kooker van den goevernr: komen om de menschen tegen Oom Huzing en mij op te hitzen immers zoude die eervergeeten vend ons gaarne van kant helpen zoo’t hem anders doenlijk was, die vervloekte Tijran heft de Ingeseetenen zederd eenige jaaren op een ongehoorde manier gedrukt en geplut, datzen bijna baloorig zin geworen, nu soekt de onbeschaamden schendbrok de schuld van zijn hals aft e schuijven en mannen van eeren op dusdange manier een smitten aan te wrijven.  O Tijden! O Zeden! Dog de regtvaardige God mag men hoopen zal’t quad eens op des bazen kop doen nederdaalen en niet toelaten dat de Vroomen langer onderdrukt worden.”

In Januarie is die stryd voortgesit en op 12 Januarie skryf Tas:

“…Mr van der Bijl verhaalde dat broer J. van Brake leer gestoord was op de niewerwetze dog ongehoorde uijtvindingen, die den gouverneur thans op de baan brengt, namel: ‘t aanstellen van 4 slagters en glijk getal van bakkers, buijten welke niemand vlees zal moogen verkoopen, nog brood bakken om te verkoopen, ‘t welk vervloekte zaken zijn door den Tijran uitgevonde om met zijn vee en koorn zijn rol te spelen…”

Van Tas se dagboekinskrywings blyk dit baie duidelik dat hy Willem Adriaan van der Stel as ‘n tiran gesien het, en heelwaarskynlik het dit ook so in die klagskrif teen hom gelui. Van der Stel het Tas en 'n paar leiers arresteer.  Sy lessenaar is opgepak en sy huis sorgvuldig deursoek.  In die lessenaar was ‘n vroeë weergawe van die klagskrif asook die name van sommige van die ondertekenaars.  Adam Tas is in kettings na die Swart Gat geneem waar hy toegesluit is en 13 maande sou spandeer voordat hy vrygelaat it.  Die goewerneur het Hüsing en drie ander burgers na Nederland verban en nege na Mauritius.  

Reeds op 20 Februarie 1707 kry Nicolaas Oortman, ‘n goedgesinde lid van die politieke raad, nuus dat die goewerneur se dae getel is deur middel van ‘n brief uit Nederland.  Die nuus word versprei en op 21 Februarie het Albert Gerrit van Emenes met sy perd deur die donker strate van Stellenbosch gejaag en har geskree: “Victórie! Victórie!”  Met die kennis het die burgers meer uitdagend begin raak teenoor die Goewerneur.  Guillaume du Toit het spottend aan die sekretaris van die landdros gevra of hy ’n mooi vaderlandse tou wil hê om ’n strop te maak waaraan hy homself kon ophang. Drie dae later is hy in die kasteel opgesluit.

Adam Tas se verhoor het van 8 tot 22 Maart geduur. Hy het erken dat die burgers briewe na Batavia gestuur het en dat die klagskrif aan die Here XVII deur 63 burgers onderteken is. Ook die name van die vernaamste ondertekenaars het hy genoem. Onder druk van omstandighede het hy die beskuldigings teen die goewerneur “teruggetrek”. Op ’n sitting van die Breë Raad is besluit om Hüsing, Jacobus van der Heiden, Ferdinandus Appel, Pieter van der Bijl en Jan van Meerland as leiers van die oproer na Holland te stuur. Ten spyte van die feit dat die Here XVII nie aan die burgers se bepalings wou gehoor gee nie was hul skrikkerig vir die gevolge van die klagskrif.  31 van die ondertekenaars was Franse Hugenote en omdat Nederland en Frankryk op daardie tydstip oorlog teen mekaar gevoer het, was hul bang die Franse ondertekenaars van die klagskrif kan moontlik begin spioeneer en teen die VOC regering aan die Kaap draai.  

Die Kasteel

Die vyfhoekige klipkasteel in Kaapstad is in 1679 voltooi.  Reeds in 1674 het die garnisoen uit die ou Fort na die Kasteel getrek en eers in 1680 trek Simon van der Stel in die Kasteel in.  Die vyf punte van die kasteel is in 1679 as Leerdam, Buuren, Catzenellenbogen, Nassau en Oranje gedoop maar Catzenellenbogen het gou die naam die “Swart gat” gekry.  Die naam is aan die bastion gegeen weens die feit dat dit selle gehuisves het, waaronder ‘n pikdonker sel.

 Op 16 April 1707 het die amptelike briewe van die Here XVII aangekom wat stipuleer dat die gevangenes vrygelaat moes word en dat die Goewerneur, die Sekunde (tweede in beheer), Landdros Johannes Starrenburg en predikant Petrus Kalden van hul ampte onthef is en na Nederland moes terug keer.  Hulle het die bevel herhaal dat amptenare nie in die Kaapse mark handel mag dryf nie en het ook beveel dat alle amptenare hul plase moet verkoop. Dit was 'n reuse oorwinning vir die burgers. Hulle het die magtige amptenare verslaan. Hulle was nou onbetwisbaar die enigste verskaffers van voedsel. Die burgers het egter maar 'n minderwaardige soort burgerskap geniet. Hulle moes 'n eed aan die State-Generaal sweer en ook aan die Kompanjie. Hulle was die Kompanjie se burgers en moes al sy verordeninge gehoorsaam.

Willem Adriaan het gehoop dat die Here XVII sy versoek sal toestaan om aan die Kaap te mag bly. Toe die nuwe goewerneur egter aankom, het hy besef dit sal nie gebeur nie, en op 23 April 1708 het hy en sy broer Frans, asook ds. Kalden en Elsevier vertrek. Vergelegen is twee jaar later in vier dele gedeel en verkoop.  In ’n poging om sy naam te suiwer stel die gewese goewerneur later sy eie dokument op, die “Korte-Deductie”, waarin hy antwoord op die aanklagte van die Vryburgers. Adam Tas stel in 1711 saam met Jakob van der Heiden die “Contra-Deductie” op, waarin hulle die aantygings van goewerneur Willem Adriaan van der Stel in sy “Korte-Deductie” weerlê en hierdie dokument word weer deur Abraham Bogaert na Holland vervoer.

Adam Tas se vrou sterf in 1714 en Tas trou daarna weer, hierdie keer op 25 November 1715 met Johanna Koevaal van Leerdam, wat hom in 1718 ontval. Teen die einde van sy lewe is hy een van die Heemraadslede vir Stellenbosch Drakenstein en by die jaarlikse opname van die besittings van die koloniste een van die gekommitteerdes vir die Kompanjie. Adam Tas is in Junie 1722 oorlede.

Interessante feite vir konteks:

  • Adam verwys ongelooflik gereeld na wyn in sy dagboek.  Daar is gereeld melding van gesellighede waartydens hy en sy vriende wyn drink – somtyds sommer saammet ontbyt.
  • Ook op verskeie plekke verwys hy na ‘n nuwe bestelling vanaf die Vaderland (Nederland).  Die bestellings het amper altyd ‘n groot getal sykouse ingesluit waarvan hy uitdruklik melding maak.  Op een plek verwys hy daarna da thy van die sykouse verkoop – dit was algemene praktyk in die vroeë jare van die kompanjie dat burgers negosie winkels sommer so uit hul huise bedryf het.
  • Op Saterdag 4 Julie 1705 stuur Adam Tas se suster ‘n wa met produkte vanaf Nederland na Tas toe.  Onder die goedere is ‘n swaard as geskenk van Adam se oom Husing.  Maar in sy dagboek skryf Adam hoe hy nie van die geskenk hou nie want die swaard lyk vir hom te veel soos “kaffer’s zijgeweer”.